Testamentêre Bemakings (Erflating)

Talle persone het nie familielede wie hulle as begunstigdes in hul testament wil aanwys nie. In so ‘n geval is dit moontlik om ʼn geregistreerde weldaads-organisasie as begunstigde in jou testament aan te wys. Die benoeming van so ʼn weldaadsorganisasie kan ook beteken dat u boedel nie vir boedelbelasting aanspreeklik sal wees nie.

Artikel 4(h) van die Boedelbelastingwet maak voorsiening daarvoor dat enige erflating wat aan ʼn weldaadsorganisasie (soos omskryf in die Inkomstebelasting-wet) bemaak is, van die netto waarde van u boedel aftrekbaar is voordat boedelbelasting bepaal word.

Voorbeeld

Indien u boedel se netto waarde ongeveer R4,5 miljoen beloop, en geen ander aftrekkings kragtens artikel 4 van die Boedelbelastingwet is ter sprake nie, dan sal sowat R1 miljoen (R4,5 miljoen minus die standaard korting van R3,5 miljoen) teen 20% belasbaar wees. Indien u egter sowat R1 miljoen aan ʼn geregistreerde weldaadsorganisasie bemaak, dan sal u boedel nie vir enige boedelbelasting aanspreeklik wees nie. U erflating ondersteun dus ʼn voornemende jong student en u aanspreeklikheid teenoor SARS word óf uitgewis en/of verminder.

DIE RAPPORT ONDERWYSFONDS

Die Rapport Onderwysfonds (ROF) is ʼn weldaadsorganisasie kragtens Artikel 10(1) van die Inkomstebelastingwet wat landswyd finansiële hulp aan jong Afrikaanssprekende studente verleen wat ná skool verder wil studeer maar nie oor die nodige fondse beskik nie. Die fonds fokus spesifiek op studente wat hulself as onderwysers wil bekwaam.

Daar is tans ʼn baie groot behoefte aan hulp en ROF kan nie naastenby aan die behoefte voorsien nie. Deur u betrokkenheid sal ons in staat wees om meer leningsbeurse vir belowende jong studente toe te ken wat wil uitstyg bo finansiële beperkinge en ‘n bydrae wil lewer tot onderwys in Suid-Afrika.

WAAROM BEHOORT EK ʼN ERFLATING AAN DIE RAPPORT ONDERWYSFONDS TE DOEN?

  • Deur ʼn erflating na te laat skep u ʼn geleentheid vir ʼn student. U belê in die toekoms van ʼn jong Afrikaanssprekende student wat graag in die onderwys wil studeer. Sodoende lewer u ʼn lewenslange bydrae tot ʼn jong persoon se toekoms aangesien ʼn tersiêre kwalifikasie altyd tot sy voordeel sal strek.

  • Die volle bedrag wat aan die Rapport Onderwysfonds nagelaat word is vrygestel van boedelbelasting, ongeag die grootte van die erflating.

HOE MAAK EK ʼN ERFLATING?

Indien u reeds ʼn bestaande testament het, is dit maklik om ʼn kodisil by te voeg wat Rapport Onderwysfonds as begunstigde benoem. ʼn Kodisil word apart van u testament onderteken en dit is dus nie nodig om ʼn nuwe testament op te stel nie. By u afsterwe sal die kodisil saam met u testament gelees word. ʼn Pro-forma kodisil is vir u gerief op ons webwerf beskikbaar.

U erflating kan verskeie vorme aanneem, bv.:

  • ʼn bepaalde bedrag;
  • ʼn gespesifiseerde gedeelte of persentasie van die restant van u boedel;
  • ʼn enkele waardevolle bate (vaste eiendom, aandele, ens.); of
  • die restant van u boedel.

Ons beveel die volgende bewoording aan wanneer u testament opgestel word of ʼn kodisil bygevoeg word:


Ek (volle name) maak die volgende erflating (restant van my boedel/persentasie van my boedel/gespesifiseerde bedrag) aan die Rapport Onderwysfonds, registrasienommer 041- 319NP0 met adres h.v. DF Malan en Eendrachtstraat, Kloofsig, Centurion, Pretoria, om na goeddunke van die Rapport Onderwysfonds vir die uitvoering van genoemde entiteit se doelstellings in Suid-Afrika aangewend te word.

Stel ons asseblief in kennis indien u Rapport Onderwysfonds in u testament benoem het of enige navrae het.
Tel: (021) 406-3699
Sel:
073 122 8800
Epos: Philmarie.Roberts@rapport.co.za

Kommentaar is gesluit.