Corlia Mitton

Ons het vir Corlia Mitton, ʼn huidige ROF-student en voornemende skeinat- en wiskunde-juffrou, gevra waarom sy onderwys studeer. Haar antwoord was: “Ek het dit as my beroep gekies, omdat dit vir my die een plek is waar jy die grootste verskil in ʼn kind se lewe kan maak – dit is waar alles begin! Ek het ook graad 4 tot 7 gekies omdat dit vir my dié deel in ʼn kind se lewe is waar jou invloed die meeste tel! Dit is waar kinders regtig begin oplet, onthou en belangstel. Wat jy daar vir hulle leer, is die begin van die ontwikkeling van die talente vir ons toekoms!“
Liesel de Wet
Ek is Liesel de Wet, 22 jaar oud en ek het vanjaar my vier jaar onderwysstudies in die Grondslagfase danksy die ROF se finansiële ondersteuning voltooi. Henry Brooks Adams het gesê dat onderwysers met die toekoms werk en dat hulle nooit sal kan bepaal waar hul invloed gaan eindig nie. Dit is juis om hierdie rede dat ek op onderwys as ʼn beroep besluit het. Die lewe van ʼn onderwyser is nie altyd maklik nie. Tog hou die beroep soveel wonderlike verrassings in juis omdat ʼn mens met kinders werk.
Die grootste beloning wat ek sal kan kry, is as daar selfs net een kind gaan wees wat sal kan sê ek het ʼn verskil in sy/haar lewe gemaak.
Dankie aan die ROF wat my die geleentheid gegee het om te groei as ʼn professionele opvoeder en as mens.
Natasha Bence
Natasha Bence is een student wat vir die afgelope drie jaar ‘n beurslening van die Rapport Onderwysfonds ontvang het. Natasha het op 4 Januarie 2010 haar studentetitel vir die titel leerlingrekenmeester verruil. Sy het ‘n foto van haar gradeplegtigheid gestuur, met die volgende woorde:
“Ek wil die Rapport Onderwysfonds hartlik bedank vir die beurs wat u aan my toegestaan is om sodoende my studies – wat aan die begin vir my onbereikbaar was – ‘n werklikheid gemaak het. Ek wil u nie net bedank vir die beurs nie, maar ook vir u bydrae tot die vrou wat ek vandag is.”
Estè Hefer
Rigting gestudeer: BA Taal- en Literatuurstudie
Universiteit: Noordwes Universiteit (Potchefstroomkampus/Pukke)
“Die ROF het my die nodige finansiële steun en motivering gebied om my studies met gemak, gemoedsrus en ywer te voltooi. Wat ‘n wonderlike geleentheid! Ek kan nie genoeg dankie sê nie.”
Maryke Nel
Rigting gestudeer : B.Rekeningkunde
Universiteit : Universiteit van Stellenbosch
“Ek en my tweelingsuster was bevoorreg genoeg om vir al vier ons studie jare op universiteit, deur die ROF beurs ondersteun te word. Die finansiële las op deesdae se ouers maak dit vir baie belowende jongmense onmoontlik om verdere tersiere opleiding te ontvang. Ek is tans in my tweede jaar van klerkskap en skryf einde vanjaar my finale SAICA eksamen. Sonder die ondersteuning van die ROF beurs, sou ek nie daardie vooruitsig kon hê nie. ‘n Mens kan nie ‘n finansiële waarde aan onderrig koppel nie, en dis instansies soos ROF wat deure oopmaak vir almal om tenminste die geleentheid te hê om iets meer as net gewoon te wees.”
WAT Sê ONS BEURSHOUERS VAN 2011:
Annika:
Hierdie jaar het so vinnig verby gevlieg, miskien omdat daar werklik byna permanent iets gebeur het. Mens het nie eens die geleentheid om in ʼn roetine te verval nie, want jou weeklikse plan verander kort-kort met nuwe vakke of aktiwiteite, of ʼn nuwe stel take en toetse wat aangepak moet word. Ek het hierdie jaar, soos baie ander eerstejaars, grotendeels myself en my roeping gevind. Gelukkig hoef ek nie van kursus te verander nie, al het my toekomsvisie so ʼn bietjie verskuif.
Aan die begin van die jaar het ek baie rigtingloos gevoel. Ek het gevoel asof ek nie ʼn doel in die lewe het waarvoor ek werk en wat ek wil bereik nie. Nadat my skooldoelwit van ‘agt-onderskeidings-in-matriek’ bereik is, het ek half in die lug gehang met die gevoel van: “OK, jy het nou jou onderskeidings, maar wat daarvan? Waarvoor mik jy nou?” Hierdie vrae het my gepla en baie gedemotiveer.
Eindelik het daar vir my aan die begin van die tweede semester lig opgegaan, en het ek net weer besef wat ek nog altyd geweet het: Ek leef vir Afrikaans. Dit is die vak wat ek die meeste geniet en waarvoor ek, sonder om twee keer daaroor te dink, dubbel soveel moeite insit vir ʼn werkopdrag. En eindelik het die ‘opvoedkunde’, wat so sterk in my familiebloed is, die oorhand gekry en het ek besluit om te word wat my pa nog altyd gespot het ek gaan word: ʼn Akademikus met Afrikaans as my vakgebied.
Hoewel ek nie mik om ʼn skoolonderwyser te wees nie, maar graag by ʼn universiteit sal wil klasgee, is Afrikaans dit waarvoor ek my wil beywer.
Baie dankie vir die geleentheid wat Rapport aan my gebied het om te kan studeer. Ek hoop dat ek altyd aan julle rede sal gee om trots op my te wees. En eindelik wil ek die Here bedank vir die passie wat hy vir my gegee het vir hierdie taal van ons en die sukses wat ek tot dusver behaal het.
Anrichu:
Rapport Onderwysfonds beteken baie vir my, en ek is dankbaar dat julle my help om my drome te verwesenlik.
Nicole:
Danksy die ROF Beurslening kan ek nou my droom en passie volg om onderwys te studeer. Sonder die beurslening sou dit nie moontlik gewees het nie! Baie dankie!
Thea-Mari:
Die ROF beurs het my in staat gestel om my studies voort te sit, wat andersins nie moontlik sou wees nie. Dit het my die geleentheid gegee om my drome ‘n realiteit te maak!
Litishia:
ROF bied my ‘n tree vorentoe in die bereiking van my drome. Dit is vir my ‘n beantwoording op gebed en ‘n groot seën om ‘n beurshouer daarvan te wees.
Mari-chelle:
Ek het nie genoeg woorde om te beskryf hoe baie die beurs vir my beteken nie. Die beurs gaan my help om my drome waar te maak. Baie, baie dankie – ek waardeer dit opreg!
Karien:
ROF maak dit vir my moontlik om ‘n goeie toekoms te bou, myself te bemagtig en om my drome waar te maak!
Elsie:
Die Rapport Onderwysfonds het my drome waar gemaak deur die finansiële steun wat aan ons gegee is. Dit is ‘n passie wat ek het om met kinders te werk en ek voel dankbaar teenoor die Fonds vir hulle vertroue in my. Dankie – julle is die beste!
Jané:
Die ROF-beurs help my ongelooflik baie hierdie jaar! Die beurs gee my ‘n kans om te kan studeer. Sonder hierdie beurs sou ek dit nie kon bekostig om onderwys te studeer nie. Baie dankie!
Jaco:
Die beurs het my die kans gegee om my droom te laat waar word! My droom om ‘n verskil te kan maak in ‘n kind se lewe. Dankie vir julle vertroue in my!!

