SLUITINGSDATUM : 15 SEPTEMBER 2011
Daar sal in 2011 veral weer gefokus word op studente wat hulle as onderwysers bekwaam. Verdienstelike aansoeke vir ander studierigtings sal egter ook oorweeg word. Toekenning van geldelike hulp sal geskied in die lig van beskikbare fondse en die volgende kriteria:
- Voornemende aansoekers moet bona fide Afrikaanssprekende persone wees of, indien die moedertaal nie Afrikaans is nie, oor ‘n taalbevoegdheid in Afrikaans beskik wat hulle in staat stel om met gemak deur die medium van Afrikaans te studeer.
- Aansoekers moet vir onderwys- en opleidingsdoeleindes inskryf by ‘n onderwys- en opleidingsinrigting wat ook Afrikaans as onderrigtaal aanbied en sover prakties haalbaar alle kursuseenhede in Afrikaans neem.
- Aansoekers vir navorsingsbeurse moet hul skripsies, verhandelinge en proefskrifte in Afrikaans skryf en indien vir eksaminering. In hierdie stadium fokus ons egter veral op hulpverlening aan voorgraadse studente.
- Aansoekers moet bereid wees om, indien enigsins prakties haalbaar, na voltooiing van hulle studies/opleiding vir ‘n tydperk gelyk aan die duur van hulle studie/opleiding ‘n betrekking in Suid-Afrika te beklee en, in die geval van onderwysers/opleiers, te poog om aan ‘n skool/opleidingsinrigting verbonde te wees wat ook Afrikaans as onderrigtaal aanbied en, sover omstandighede dit toelaat, in Afrikaans onderwys te gee.
- Aansoekers wat hulle as onderwysers wil bekwaam se vakkeuses kan as oorweging by die toekenning van geldelike hulp dien, ten einde in die behoefte aan onderrig in Afrikaans in skaars vakke/leerareas of in enige ander geïdentifiseerde behoefte te voorsien.
- Aansoekers wat hulle in ander studierigtings/vakdissiplines wil bekwaam, sal ook aan dieselfde vereistes van behoeftegerigtheid onderwerp word. Dit beteken dat behoeftes wat in die breër arbeidsmark geld, met inagneming van die Fonds se missie en doelstellings, bepalend sal wees.
- Geldelike ondersteuning sal hoofsaaklik aan voltydse studente gegee word. ‘n Bewese prestasierekord of potensiaal met die oog op verdere studie sal swaar weeg.
- Eienskappe soos leierskap, ‘n gedissiplineerde lewensbenadering en die wil om te presteer in soverre dit uit die aansoek spreek, sal deeglik in ag geneem word.
- Aansoeke sal oorweeg word met inagneming van die geldelike posisie van die
aansoeker/ouers/voog(de), en vir dié doel sal ‘n middeletoets aangewend word waarin die bruto inkomste van die aansoeker/ouer(s)/voogde, hulle vaste bates en beleggings, skuldverpligtinge en lopende uitgawes asook gesinsverpligtinge (kinders nog op skool, universiteit), deeglik in berekening gebring word. - In gevalle waar borgstelling van aansoekers vereis word, moet die borge uit hulle bate-opgawe deeglik aantoon dat hulle in staat is om hul verpligtinge na te kom indien ‘n lening/leningsbeurs opgeroep moet word. Sou dit nie gedoen kan word nie, kan aansoekers met besondere meriete (as suiwer weldaadsgevalle) deur die Beurskomitee aanbeveel word.
- Indien dit uit die aansoekvorm of inligting wat deur ‘n onderwysinstelling voorsien is, blyk dat die aansoeker reeds geldelike steun uit ander oorde ontvang en die finansieringsbehoefte laer blyk te wees as die bedrag wat die aansoeker aangevra het, sal slegs die werklike finansieringsbehoefte oorweeg word.
- Die weldaadsmotief van die Fonds sal eerstens gerig wees op hulpbehoewende studente, en as omstandighede andersins gelyk is, sal aansoeke van persone wat in dié kategorie val voorrang geniet.
- Die belangrikheid van die oorweging van aansoeke op meriete, maar ook die beginsel van breë verteenwoordiging met betrekking tot geslag, bevolkingsgemeenskappe en onderwys- en opleidingsinrigtings, sal deeglik in ag geneem word.
Aansoekers of die ouers/voogde van aansoekers wat ‘n verbintenis het met enige van die vennote van die Fonds, naamlik Rapport, Solidariteit, die Afrikanerbond of Dagbreek Trust, of met instansies wat substansiële bydraes tot die Fonds gemaak het, sal nie voorkeur bo ander aansoekers geniet nie. Dit is immers ‘n fonds vir alle Afrikaanssprekendes.